PROPERTIES / EIENDOMME

  • Inligting oor Dinokeng








 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


 

 

 

 

 

 

 

 

 


Groot5-wildtuin storm, brul voort na opening

Neels Jackson, Beeld


Gauteng se eie Grootvyf-wildtuin is omhein en kan teen Desember sy hekke open.
Mnr. Mbhazima Shilowa, premier van die provinsie, het gister op die rug van ’n olifant gehelp om ’n heining tussen twee van die deelnemende grondeienaars om te stoot om dié droom te help bewerkstellig.
Die Dinokeng-wildtuin, noordoos van Pretoria, sal aanvanklik sowat 13 000 ha beslaan, maar die hoop is dat meer grondeienaars by die projek sal inskakel sodat dit oor vyf jaar so groot soos die Pilanesberg-wildtuin kan wees.
Altesame 88 grondeienaars is reeds deel van die eerste fase. Hulle behou eienaarskap van hul grond en toerismebedrywighede soos konferensiesentrums en ­wildritte sal voortgaan.
Die hele gebied is nou met ’n elektriese wildheining omspan en die heinings tussen die deelnemende eiendomme sal nou afgebreek word.
Daar is daar reeds luiperds, buffels, witrenosters en talle ander wildsoorte in die reservaat. Die wildtuin se eerste fase sal na raming drakrag vir sowat 13 olifante en twee klein troppies leeus hê. Die teikendatum vir die hervestiging van dié twee spesies is Desember.
Wat verder nog moet gebeur, is dat die hekke van die wildtuin, onder meer op die teerpad tussen Hammanskraal en Rust de Winter, opgerig moet word.
Volgens mnr. Charl Pretorius, voorsitter van die grondeienaarsvereniging, is die gedagte dat mense wat net wil deurry, ’n deurgangspermit sal kry en beperkte tyd sal hê om aan die ander kant van die wildtuin te kom.
Mense wat tyd binne die wildtuin wil bestee sal ’n dagpermit moet uitneem.
Die groot uitdaging vorentoe is om meer grondeienaars van die omgewing te oortuig om by die projek in te skakel sodat die wildtuin vergroot kan word. Dit sluit ook gemeenskappe in aan wie grondeise in die gebied toegestaan word.
Die uiteindelike droom is ’n wildtuin van 120 000 ha wat die Rust de Winterdam insluit en oor drie provinsies – Gauteng, Mpumalanga en Limpopo – strek.


Copyright © 2007 Wiltinnet Properties. All rights reserved